|
Resensies & Artikels
Martin Rossouw
Die Volksblad - November 2006
Voor op
dié album is ’n silhoeët van ddisselblom se blom met die
skaam-mooi glimlag. Die hele storie blyk redelik ongekompliseerd
te wees.
Die titel sê alles wat dit hoef te sê, dit sê bloot Lienka.
Want teen die tyd weet ons al dat Lienka Coetzee eerder met haar
sang die praatwerk doen; en van dié solodebuut se eerste snit is
my reeds goeie verwagtinge moeiteloos oortref.
Die tweetalige album, as ’n geheel, is ’n strelend-melodieuse
exposé wat gebou is rondom Lienka se welbekende gawes as sanger.
Uit die aard van die saak het die album ’n oorwegende rustigheid
en selfs erns. Dank die hemele daarvoor. ’n Kunstenaar moet mos
voortgaan met dit wat sy goed kan doen. Jy ervaar inderdaad ’n
stuk opregtheid.
Die voortreflike musikale vakmanskap van hierdie werk verdien ook
’n kompliment. Tesame met gehalte-musici, is dit Floors Oosthuizen
se raakvat-verwerkings en produksie wat alles netjies bymekaar
hou.
Die manier waarop elke lied aangepak word, is werklik in die kol.
Lienka het heel duidelik haarself ook met bekwame liedjieskrywers
omring. Dit is veral manlief (en mede-ddisselblommer, Jaco Spies)
se naam wat ’n paar keer in die CD-omslag opduik.
Hierdie is nie die soort versameling waarvan jy liedjies wil
uitsonder nie, maar snitte soos Wag-’n-bietjiebos, Pad na jou
hart, Net ’n droom en Binnekant gee my so ’n ekstra warm gevoel in
die bors. Na my mening is Lienka net nog soveel beter wanneer die
moedertaal van haar tong afrol.
Oor een ding is ek beslis aangenaam verras: Hier is meer as genoeg
vir Generasie X om hulself in te verlustig. Ligte pop se Moses!
Met tye herinner Lienka se sang aan Reana Nel (Nianell se
rocker-jongsus) en soms selfs aan dié van Evanescence (luister
gerus na Outside).
Daar is ook ’n kragtige duet met Ross Learmonth, die voorsanger
van die SA rockgroep Prime Circle. Maar nie vir een oomblik voel
jy dat sy haar siel verkoop vir markwaarde nie. Inteendeel, ons
sien meer van Lienka se siel as ooit tevore.
En ek het geen twyfel dat hierdie sielvolle stem nou, as
solokunstenaar, tot haar ware, volle reg kom.
|