Resensies & Artikels

LIENKA RANK NOU IN HAAR EIE RIGTING
Mariana Malan
Die Burger - Oktober 2006

DIE vraag hoekom Lienka nie haar eie album maak nie, het gou verander in wannéér sy dit gaan doen.  Die antwoord op albei vrae is nou ’n realiteit. Boonop gaan Kapenaars die eerstes wees wat gaan hoor hoe sy op haar eie op die ­verhoog klink.

Lienka, lank bekend as “die blom van ­ddisselblom”, rank nou in haar eie rigting met haar debuut-album, Lienka. Waar sy egter as deel van die groep bekend geraak het vir die strelende kombinasie van klavier en stem, val sy hier weg met ’n groter en swaarder klank.

Hier is werklik moeite gedoen om die album goed te laat klink. Daar is onder meer vier viole, twee altviole en twee tjello’s ingebring vir die magiese element wat net lewendige musiek kan bied.

Wanneer sy eerskomende Sondag en Maandag die album in die Dorpstraat-teater op Stellenbosch bekend stel, gaan hierdie instrumente weliswaar afwesig wees, maar daar sal wel klavier-, kitaar- en perkussie­begeleiding wees. Dit sal interessant wees om te kan vergelyk hoe die album en verhoog­optrede ooreenstem en verskil.

Lienka sing ’n klompie uiteenlopende liedjies, geskryf deur verskillende musiek- en liriekskrywers. Johan Vorster en Sean Else (die skeppers van Bok van Blerk se groot ­treffer “De la Rey”) het “Pad na jou Hart” bygedra en Gian Groen “Wag-’n-bietjiebos”.
  Sy skitter veral met liedjies waaraan Jaco Spies, nog ’n lid van die oorspronklike ddisselblom, meegewerk het.  Die lied waarmee sy die verste wegbeweeg van die gebaande weg saam met ddisselblom is “What Love does”, met Spies se musiek en lirieke. Sy sing dit in duet met Ross Learmonth van Prime Circle. Dis die eerste keer dat laasgenoemde in duet optreeHierdie lied verdien om internasionaal gehoor te word.

Volgens Lienka het sy geweet sy sou as solokunstenaar anders klink as dit waaraan gehore gewoond is. Dit was ’n doelstelling, maar sy wou ook nie gehore vervreem nie. Sy het van die liedjies by optredes van ddisselblom begin sing. Mense het dit begin herken en sy het geweet dit het die toets geslaag toe gehore begin vra daarvoor.

Meer as die helfte van die musiek op die
album is in Afrikaans en die res is Engels. Daar is selfs een lied met Afrikaanse inhoud en ’n Engelse koor. Die taal maak nie werklik saak op hierdie album van volwasse kontemporêre pop-rock nie. Die liedjies kan eerder elk op eie meriete beoordeel en geniet word.

Volgens Lienka gaan ddisselblom as groep voort en hulle beplan ’n nuwe album. Hulle het egter afgeskaal op toere en optredes sodat lede op hul eie loopbane ook kan konsentreer. Hierdie album wys dat dit ’n wyse besluit was.

 

 
 
 


2006, 2007
Lienka.co.za
Mia @ ddisselblom