Resensies & Artikels

LIENKA SKIET WORTEL IN DIE STAD
Martjie Roos
Rapport - September 2006

In 2001 het ddisselblom sy debuut by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn gemaak op 'n klein verhogie.  Baie mense onthou dit, want dit was die eerste keer dat hulle Lienka, die enigste blom in dié groep, se engelstem gehoor het.

Skaam-skaam het die fyne Lienka saam met Johrné van Huyssteen en Jaco Spies op die verhoog geklim en die liedjie Valkenburg, 'n toonsetting van Ingrid Jonker se gedig, gesing. Lienka se stem het die mense bekoor - en 'n nuwe groep en 'n nuwe ster is gebore.

"O, ek wou glad nie sing nie. Jaco en Johrné het my as't ware verhoog toe gesleep en my bene het behoorlik gebewe. Ek het agter die klavier weggekruip. Maar ná die eerste paar liedjies het my senuwees gekalmeer. En dit was toe dat ek besef het ek wil sing."

Lienka was 'n sorgelose kaalvoet plaaskind van die Karoo - sy het in Burgersdorp op 'n skaapplaas grootgeword en is die jongste van vier dogters. "Daar was altyd musiek in ons huis en op hoër skool het ek liedjies geskryf en musiek as vak geneem. Ek het koor gesing, maar nooit daarvan gedroom om heeltyds te sing nie."

Sport was Lienka se groot passie op skool. Sy het aan atletiek deelgeneem - en veral in verspring en naellope uitgeblink - en netbal gespeel.

Die sangeres Liesl Marx, wat saam met Lienka op skool was, sê Lienka het een keer tussen skoolperiodes voor die klavier gaan sit en spontaan begin sing. "Ek was stomgeslaan oor haar talent."

Ná skool het Lienka nie geweet in watter rigting sy wou gaan studeer nie en toe besluit op menslike bewegingskunde in Bloemfontein.  Haar paadjie het ná universiteit met Johrné en Jaco gekruis en die driemanskap het met die innoverende projek, Geblikte Afrikaans, begin.  Alles onder die son wat jy in 'n blik kan druk - met pittige Afrikaans daarop - het dié drie jong entrepreneurs van Bloemfontein bemark en verkoop.

"Ek het al die administrasie behartig en was die sekretaresse. Die projek het vir ons baie deure oopgemaak."

Johrné en Jaco was toe nog salig onbewus van Lienka se versteekte sangtalent. Eendag op 'n reëndag het sy so eenkant gesit en 'n paar akkoorde op die kitaar gedruk en begin sing.

Johrné onthou die dag: "Ek het vir Jaco geroep en gesê hy moet kom luister, want ek het nog nooit so 'n stem gehoor nie."

Die spreekwoordelike koeël was toe deur die kerk. Johrné en Jaco het gereeld musiek gemaak en in "garagebands" gespeel en het net daar besluit om vir Lienka op te kommandeer as die vroulike lid van hul nuutgestigte groep ddisselblom.

Hulle het die land plat getoer en met hul unieke, vars klank duisende aanhangers gewen. Tydens hul konserte het oud en jonk die groep se musiektalent waardeer. Johrné was die hoofman en grapjas, Jaco het die kitaar lekker getokkel en Lienka se stem het almal met verwondering gevul. Later het die groep nog uitgebrei en 'n kitaarspeler en drommer bygekry. Lienka en Jaco is intussen getroud en die groep het verlede jaar Johannesburg toe verhuis.

Ná vyf jaar tree ddisselblom steeds op, maar hulle het hul konserte ingekort en elkeen het nou sy eie "nis" ontdek. Johrné het onlangs sy eerste solo-CD, My seun Mieliepap, opgeneem en Jaco het 'n rol in kykNET se sepie Villa Rosa losgeslaan. Lienka het ook nie stilgesit nie en haar langverwagte eerste solo-album Lienka opgeneem wat pas uitgereik is.

"Dit het my baie lank geneem om tot dié stap oor te gaan. Daar moes eers baie in my kop gebeur en ek moes eers besluit met watter materiaal ek die gemaklikste gaan voel.  Ek was baie dankbaar dat ek in ddisselblom my voete kon vind en my self kon ontdek. "Dit is goed dat ons ons horisonne begin verbreed, maar ons wil hê ons aanhangers moet weet ddisselblom bestaan ook steeds."

Lienka se debuutalbum is twee weke gelede uitgereik. En soos verwag is dit sielsmusiek wat met groot passie gesing word.

Juan (Floors) Oosthuizen, bekende kitaarspeler, het die leisels gevat as vervaardiger en die album is by Marius Brouwer, wat as klank ingenieur opgetree het, se ateljee opgeneem.

"Floors het die verwerkings gedoen en dit was 'n magiese proses, want hy weet presies in watter rigting ek wil beweeg."

Lienka druk haar onmiskenbare stempel op rock, pop, strelende ballades tot country af. Van ons top-liedjieskrywers het bydraes op die album gelewer. Sy sing byvoorbeeld liedjies van Gian Groen, André Calitz, Fanie Fouché en 'n liedjie wat saam deur Sean Else en Johan Vorster geskryf is op haar tweetalige album.

Manlief Jaco het ook self 'n paar liedjies neergepen. Die rock-nommer What Love Does is byvoorbeeld Jaco se pennevrug (Lienka het gehelp met die lirieke). Sy sing dié duet saam met Ross van die groep Prime Circle en hy word reeds baie op verskillende radiostasies gespeel. Die enigste "cover" is I know you by heart, 'n liedjie wat Eva Cassidy.

Terwyl sy vir die eerste keer in die ateljee solo moes sing, was dit asof elke liedjie net in plek geval het en net vir haar geskryf is.

"Marius het my stem as't ware in die ateljee gerek en ek het vir die eerste keer 'n selfvertroue in my stem ontdek wat ek nooit besef het ek het nie."

Musiek het nou 'n groot deel van haar lewe geword.

"As ek sing, vergeet ek alles om my. Ek praat met my stem en as die gehoor hul hart en siel kan oopmaak vir my musiek, dan voel ek ek het iets daarmee bereik."

"n Stadskind is sy wel nou, maar haar wortels bly haar anker in die lewe. Haar ouers bly nog steeds haar grootste rolmodelle.

"My ma, Bertha, is die een wat my altyd geleer het dat niks onmoontlik is nie. My pa, Theuns, is 'n rustige ou met 'n sagte hart wat altyd die underdog se kant vat. My liefde vir die natuur en diere het ek by hom gekry."

Sy verlang baie na die rustigheid van die plaaslewe en voel soms "vasgedruk" in die stad, maar gelukkig het sy en Jaco goed in die Goudstad aangepas en sy hou van die polsende ritme van die stad.

"Ek gaan kuier darem so paar keer 'n jaar op die plaas om my batterye weer behoorlik te laai."

Haar lewensfilosofie weerspieël ook presies wie en wat sy is.

"Dit is belangrik om gemaklik te wees met jouself en presies uit te vind wie jy is. Ek haat pretensie."

En luister maar gerus na die Karookind se goue stem - want dié ongekunstelde blom van ddisselblom nog wortel skiet in die harte van menige luisteraar.

 

 
 
 


2006, 2007
Lienka.co.za
Mia @ ddisselblom